’n Aandeel word omskryf as een van die eenhede waarin eiendomsbelang in ’n maatskappy met winsoogmerk verdeel is. Dit is belangrik om ‘aandele’ van ‘sekuriteite’ te onderskei. Sekuriteite word omskryf as enige aandele, skuldbriewe of ander instrumente, ongeag hulle vorm of titel, wat deur ’n maatskappy uitgereik of as uitreiking gemagtig is.
In die Akte van Oprigting (“AVO”) van ’n maatskappy moet die klasse aandele asook die aantal aandele in elke klas wat die maatskappy gemagtig is om uit te reik, uiteengesit wees. Die AVO moet ook tot betrekking tot elke klas aandele, ’n onderskeidende benaming vir daardie klas en die voorkeure, regte, beperking en ander bepalings wat met daardie klas verband hou, uiteensit.
’n Maatskappy kan ’n groot verskeidenheid klasse aandele hê, waarvan die algemeenste aandele bestaan uit:
Gewone klas aandele is die oorblywende aandele en maak die ekwiteitsaandelekapitaal van die maatskappy uit. As die maatskappy voorkeuraandele uitgereik het, ontvang die gewone aandeelhouers hul deel van dividende wat verklaar is nadat die voorkeurdividend aan voorkeuraandeelhouers betaal is. Die bedrag van die dividend wat aan gewone aandeelhouers betaal word, is nie ’n vaste bedrag soos in die geval van voorkeuraandele nie, maar wissel na gelang van die winste van die maatskappy.
Voorkeuraandele kan omskryf word as ’n klas aandele waarvan die houers voorkeur geniet bo enige ander klas aandele met betrekking tot die betaling van dividende en soms ook ten opsigte van die terugbetaling van kapitaal by likwidasie. Die regte wat aan voorkeuraandele verleen word, is altyd van die AVO afhanklik. Soos hul naam aandui, geniet voorkeuraandele gewoonlik ten minste voorkeur met betrekking tot die betaling van die voorkeurdividend voordat gewone aandeelhouers hul dividend ontvang.
Aangesien die betaling van ’n voorkeurdividend gewoonlik daarvan afhang of ’n maatskappy ’n wins gemaak het of ’n dividend verklaar het, kan dit gebeur dat ’n maatskappy besluit om in ’n bepaalde finansiële jaar nie ’n dividend op sy voorkeuraandele te verklaar nie. As die voorkeuraandeel nie-kumulatief is, word die voorkeurdividend in sodanige geval permanent verbeur. As die voorkeuraandeel wel kumulatief is en ’n dividend nie in enige bepaalde finansiële jaar verklaar word nie, word sodanige agterstallige dividend oorgedra, met ander woorde, dit akkumuleer en word by die dividend gevoeg wat in ’n daaropvolgende finansiële jaar verklaar word.
Daar bestaan ’n algemene uitlegreël dat voorkeuraandele nie-winsdelend is – dit wil sê dat voorkeuraandeelhouers slegs op hul vaste voorkeurdividend geregtig is, maar geen aanspraak het om te deel in enige surpluswinste na die betaling van hul dividende nie, ongeag hoe winsgewend die maatskappy ook al mag wees. Die reg kan egter uitdruklik in die maatskappy se AVO of in die uitgiftevoorwaardes aan die voorkeuraandeelhouer verleen word om saam met die gewone aandeelhouer op ’n pro rata-grondslag te deel in die uitkerings van enige surpluswins na die betaling van die voorkeurdividend.
Die uitgiftevoorwaardes van die voorkeuraandele kan aan voorkeuraandeelhouers die reg verleen om, gewoonlik na ’n bepaalde datum, ’n deel van of ál hul voorkeuraandele in ’n ander klas aandele (gewoonlik gewone aandele) te omskep. Hierdie voorkeuraandele staan as omskepbare voorkeuraandele bekend.
Die uitreiking deur ’n maatskappy van kapitalisasie-aandele beteken bloot dat ’n maatskappy sy uitkeerbare winste in aandelekapitaal omskep het eerder as om dividende uit sy uitkeerbare winste te verklaar. In die normale loop van sake word dividende in die vorm van kontant uitbetaal. Tensy die maatskappy se AVO ’n bepaling tot die teendeel bevat, kan die verdeelbare winste van die maatskappy eerder as volopbetaalde kapitalisasie-aandele uitbetaal word. Op sodanige wyse word die winste van die maatskappy gekapitaliseer. In plaas van ’n kontantdividend, beskik die aandeelhouers nou op ’n pro rata-grondslag oor meer aandele in die maatskappy.